Die inhoud van my storie is dalk nie vir jou nie, maar dalk ken jy iemand wat dit waardevol mag vind. Dalk deel jy ‘n huis of slaapkamer met so iemand wat nodig het om dit te hoor. Elke mens dink sy storie is besonders, maar ek is bewus daarvan dat ek besonders lig van die een afgekom het en dat daar mense is wat se storie film materiaal is.
Vir ‘n deel van my lewe het ek ondraagbare teenspoed beleef. “Bad Luck” was in my oë ‘n “understatement”. Een mislukking het op die ander gevolg met ‘n gevoel dat hoop op ‘n uitkoms net preek materiaal is. Hoe gemotiveerd ek ook al was, geen plan het positiewe resultate opgelewer nie. Hoewel ek ‘n groot deel van my lewe met mense werk in hulpverlening kon ek nie myself troos met die wete dat ek nie die enigste mens op Gods aarde is wat druk en teenspoed ervaar nie. Ek het gebid en gewag, soms geduldig en soms oorgegee aan uitbarstings, maar die spreekwoordelike wiel wou nie draai nie. Wolke met silwer randjies was net natuur verskynsels en sketse in kinderstories.
Perfeksionisme het sy tol geëis. ‘n Vernietigende eienskap wat ‘n invloed gehad het op my en die mense by my. My vrou het my met kalmte aangekyk toe ek haar vertel dat ek nie meer na myself in die spieël kon kyk nie. Telke male moes sy my herinner om my hare, wat ek reeds nat gemaak het, te kam. Sy kon sien wat gebeur, maar selfs haar liefde en ondersteuning kon nie die donker wolk van depressie verdryf nie. Ek kon nie die deur kry uit die donker vertrek nie, nie eens met gebed en geloof nie. Ek dien al mense met my gawe sedert my graad 11 jaar, dit was in 1987, ek is gegradueer in “Ministry” gees vervuld, hoe is dit enigsins moontlik dat ek hier kon beland?
Wanneer ‘n mens op hierdie wyse geaffekteer is, gebeur baie dinge terwyl dit voel of niks gebeur nie. Slaap is iets wat nie gebeur nie, mense verstaan jou nie, dit is moeilik om jouself uit te druk in woorde. Moenie uit die oog verloor dat dit my werk is om te praat nie, hoe is dit moontlik dat ek sukkel om myself duidelik uit te druk in ‘n gewone gesprek. Vergeetagtigheid was aan die orde van die dag tot groot frustrasie van nie net my gesin nie, maar ook myself. Dit is nogal vreemd om saam met jou gesin in ‘n gesprek te sit en hoor hoe hulle vertel van die geselligheid wat ons bygewoon het en alles is vir my nuus. Ek herken nie die gebeure of die feit dat ek daar was nie.
Ek het tot die besef gekom dat ek nie beheer het oor gebeure wat in my geheue vasgeslaan het nie. Ek verwys na gebeure selfs so lank as 42 jaar gelede. My pa was ‘n polisieman van beroep en moes gereeld grensdiens doen. Sy afwesigheid en die vrees dat hy dalk nie sou terugkom nie, was dalk te veel vir ‘n 8 jarige. Dit is ‘n enkele scenario, die ouer garde sal die onluste wat in die laat 1970’s in Suid Afrika was onthou, hoe ons ingeoefen het om agter ons skoolbanke skuiling te soek, tydens noodgeval oefeninge. Die gebeure het ‘n uitwerking op my en my skoolwerk gehad. In my jonger dae was ek fris gebou en alle sport gedoen wat voorgekom het, Hoofseun van my hoërskool, ‘n offisier in die polisie en het al verskeie meer en minder suksesvolle besigheid geleenthede aangepak . Maar dinge het verkeerd begin loop, die gat swarter en dieper. Ek het opgeeïndig as voorman by ‘n vriend wat my in alle opregtheid wou help om aan die gang te bly. My kreatiwiteit was ZERO!
Daar was net een weg hier uit. Ek het hulp nodig. Dit het gelei tot die besluit om deel te neem aan ‘n Life Coaching program. Jare se gebeure word nie oornag uitsorteer nie, maar met uiterste vaardigheid het my lewensafrigter, spreekwoordelik die lae afgetrek van my oë af. Die proses het sy eie hoofstuk nodig maar verdra die effens grafiese uitbeelding wat volg.
Ek het eendag op die toilet gesit, uiteraard die beste plek om te dink. Na afhandeling van al die relevante papierwerk, het ek opgestaan en vir een of ander rede na die spieëI gedraai met die woorde wat spontaan uit my mond kom, “Die wêreld het jou nodig” Ek was op my eie maar effens verleë oor die verwaande uitlating. Ek het na my kantoor gestap, my volgende kliënt gekontak en die wêreld verander, “one conversation at a time”.